Afrikaanse Christen Kerk van New Zealand in Hamilton, met bedieninge in die plaasgemeenskap van Piako en omgewing asook Te Awamutu. Daar is ook 'n Engelse bediening, Nazirite Ministry
Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland Geloofsverwoording
Die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland glo aan die enigste, almagtige, ware God, wat Homself aan ons bekend gemaak het as Vader, Seun en Heilige Gees .
God die Vader het alles gemaak.
Hy bestuur en regeerdie skepping volgens Sy Heilige wil.
Sonde en die gevolge daarvan is teen God se wil.
God die Seun (Jesus Christus ,ons Verlosser) het God verder aan ons bekend gemaak tydens Sy aardse lewe.
Hy het ons verhouding met God herstel deur ons sonde in Sy liggaam aan die kruis te dra. Al ons skuld is volledig betaal.
Deur die krag van God is Hy opgewek uit die dood .
Jesus Christus beklee ‘n posisie van eer en mag, aan die regterhand van die Vader .
Hy is die Hoof van Sy kerk, deur wie die Vader oor alles regeer.
Hy tree vir sy kinders as voorspraak by die Vader in.
God die Heilige Gees oortuig ons van sonde, bring ons tot die ware geloof, berou en bekering, verseker ons dat ons skuld vergewe is en lei ons op die pad van heiliging .
Die Heilige Gees is op Pinksterdag in al sy volheid aan die Kerk gegee .
Die Heilige Gees gee aan die gemeente die gawes wat nodig is om die koningkryk van God op te bou en uit te bou in die wereld .
Die Bybel is onder die leiding van die Heilige Gees deur mense geskryf en het n lang en wonderbaarlike ontstaansgeskiednis .
Die Heilige Gees lei gelowiges as gemeenskap om die Bybel in ons eie tyd en konteks te verstaan .
Ons leer deur die Bybel wie God is en God praat met ons deur die Bybel .
Die Bybel vertel van God se liefde vir mense, se veroordeling van die kwaad en die blye boodskap van redding en vergifnis .
Die Bybel is n versameling van verskillende literatuursoorte. Met die uitleg van elke Skrifdeel moet die besonderhede aard en die plek daarvan in die geheel, in ag geneem word .
Die Kerk is mense wat God uit liefde geroep en gered het .
Die Kerk word gesien in gemeentes waar mense God aanbid en mekaar in die geloof versterk, die eenheid in Christus duidelik blyk en die gelowiges elke dag in hulle gemeenskappe hulle geloof uitleef .
Die taak van die Kerk is om:
*so te lewe dat alle mense kan sien dat ons die Here en ons naaste liefhet ,
*dit duidelik te maak dat God almal liefhet en dat Jesus Christus ons Redder is,
*die liefde van God oral deur dade sigbaar te maak waar daar nood en lyding is,
*te werk vir reg, vrede en gesonde waardes ,
*en haar te beywer dat al hoe meer van die eenheid van die Kerk van Jesus Christus gesien kan word.
to add ACK Hamilton: Gemeente met Oop Harte map to your website;